top of page
Basiese Terme
Kathleen Ward
​

​

 

Terme wat u gereeld sal hoor en vir die nuwelinge, ‘n bietjie hulp om die wêreld van die skaaphond makliker te verstaan.

Van die terme is net in Engels soos u dit sal hoor; om dit te vertaal maak nie sin nie. 

​

*  Haal (Cast) – Dit is as die hond uitgaan om die skaap, om hulle te bring.  Die mees     ekonomiese haal is as die hond die peervormige haal doen.  Sien “haak van die skaap”.

​

* Heading – Word gebruik wanneer die hond om die skaap gaan;  ook as die hond heeltyd by die koppe van die skaap wil uitkom.  The dog wants to go to the ‘head’ of the sheep.  Die hond wil na die ‘koppe’ van die skaap gaan.

​

*  In Australië/Nieu Zeeland praat hulle eerder van “Heading” as van “Cast”.

​

*  Hef (Lift) – Wanneer die hond agter die skaap kom en hulle begin beweeg word daar gepraat van “hef”.  D.w.s. die eerste kontak wat die hond met die skaap maak.

​

*  Bymekaar maak (The Gather) – In proefloop terme sal dit bestaan uit die haal, hef en bring.   Op die plaas praat ons van die hond het die skaap bymekaar gemaak.

​

*  Balanseer (Balance) – Die hond voel die skaap se druk aan en sal sy posisie inneem waar hy voel die skaap gaan breek.  Dit kan agter die skaap wees, of heel aan die een kant van die trop.  Die hond moet altyd die skaap so na as moontlik op ‘n reguit pad na jou toe hou.  Party honde het die gevoel baie beter as ander, maar dit is iets wat deur afrigting en oefening verbeter kan word.  Wanneer jou hond bevele kan neem en jy die hond weg van die balanseerpunt kan plaas (off-balance, weg van die drukpunt, “verkeerde posisie”) sal jy sien hoe hardloop jou skaap weg.

 

*  Druk (Force) –  

1 - Die druk wat die skaap op ‘n hond uitoefen.  Dit kan wees met die bymekaar maak van ‘n groep of trop skaap en hulle wil nie beweeg nie of wil terug hardloop na die hoek van die kamp.  Die druk wat skaap op ‘n hond sit wanneer jy ‘n klein troppie wegkeer van die res van die trop en hulle wil terug na die trop toe.  Die druk van ‘n lammerooi.  So is daar talle voorbeelde van druk wat skaap op ‘n hond uitoefen.

2 - Die druk wat ‘n hond op die skaap uitoefen.     (sien sterk of swak hond).

​

*  Druk punt (Pressure point) – Dit is die kant waarheen skaap wil breek.  Die hond bly op daardie punt, bv. na die haal wanneer die hond kontak maak met die skaap sal hy stop waar hy die druk voel – dit is die kant waarheen die skaap wil breek;  of met die bring bly die hond heel aan die een kant maar die skaap kom nog op ‘n reguit lyn.   Die hond voel die drukpunt aan daardie kant.

  

*  Kruising (Cross) – Dit is wanneer jy die hond links na skaap uitstuur en hy kruis sy haal enige plek tussen jou en die skaap en gaan regs om die skaap.  Dit kan partykeer in die praktyk op die plaas gebeur en tot voordeel wees in daardie omstandighede, maar in die normale praktyk en by proeflope is dit ongewens dat ‘n hond sy haal kruis as jy hom uitstuur skaap toe.  ‘n Jong hond wat te gou te ver gestuur word om skaap te gaan haal sal maklik sy haal kruis.  ‘n Hond sal ook baie maklik kruis as skaap teen ‘n draad staan en hy nog nie die vaardigheid het om tussen die skaap en die draad in te gaan nie.  ‘n Hond sal ook op sy ongemaklike/stywe kant maklik kruis om, om die skaap te gaan op sy maklike kant – sien aanmerkings by Links en Regs honde.

​

*  Aangeskakel (Switched on) – Daar word so gepraat van ‘n hond wanneer hy belangstelling wys in vee, hoenders, duiwe of katte (d.w.s. as hy wil werk).  Die kleintjie begin oog wys en nader aan die skaap kruip of begin hulle jaag.

   

*  Styl (Style) – Dit is die houding waarmee ‘n hond werk.  Baie styl is ‘n hond wat met ‘n baie lae kop posisie werk – kenmerkend van ‘n Border Kollie.  Daar is lyne Kelpies wat met baie styl werk en ander wat weer met hul kop in ‘n hoër posisie werk.

 

*  Oog (Eye) – ‘n Jong hond kan oog wys deur stadig na skaap toe te stap of om na vee te lê en kyk.  ‘n Ouer hond wat te veel oog het is geneig om vas te steek.  Hulle raak so gehipnotiseer dat hulle baie keer nie jou bevele hoor nie.  Die hond en die skaap raak in ‘n oog tot oog konfrontasie.  Daar is weer honde wat te min oog het en baie los werk en nie skaap bymekaar kan hou nie.  In Australie kry jy die uitdrukking “We don’t want eye, we want to get the job done”.  Dit kom van honde wat net staan en staar vir die vee en dan nie vorentoe beweeg nie of baie lank neem voor daar beweging is.

​

*  Sterk of swak hond (force/power or a weak dog) – Dit is iets wat party honde het;  ‘n soort “aura” wat gesag oor die skaap uitoefen.  Hy het nie nodig om te byt om die werk gedoen te kry nie, sy blote teenwoordigheid dwing gesag af.  Dit is nie iets wat altyd maklik  is om vir mense te beskryf nie en daar kan baie hieroor geredeneer word.  Almal se idees is nie dieselfde nie.  Party honde het wat nodig is, maar deur te veel dissipliene en ‘n oorywerige afrigter kan baie uit ‘n hond gehaal word.  Die swak hond wat nie genoeg druk op skaap kan uitoefen nie se skaap staan stil of gaan in hul eie rigting.  By ‘n jong hond moet daar versigtig gewerk word sodat die hond nie in situasies beland wat hom intimideer en dit aangesien word as ‘n swak hond nie.  Onsekerheid kan ook lei tot situasies waar dit voorkom asof die hond swak is.  Weer ‘n probleem wat met afrigting kan verbeter.  Te min ondervinding met ‘n jong hond kan lei tot situasies wat geïnterpreteer kan word as die werk van ‘n swak hond.

 

*  Flanking dog – Dit is ‘n hond wat verskriklik heen en weer agter sy skaap hardloop (onnodig en uitermatig).  Dit kan in die meeste gevalle met bevele onder beheer gebring word.  Daar is honde wat losser agter hul skaap werk en die twee tipes moet nie verwar word nie.  Dit is iets wat meer opvallend is by ‘n kleiner trop skaap.  Met groot troppe is dit nodig dat ‘n hond moet flank om die kante van die trop bymekaar te hou.

    

*  Reg hoekige flanke (Square flanking) – Dit is wanneer ‘n hond weg/uitflank agter sy skaap. Die skaap bly op ‘n reguit lyn.  Wanneer die hond nou en reguit op sy skaap flank druk hy hulle eers in een rigting dan weer in die teenoorgestelde rigting.

       

*  Lyn hond (Line dog) – Dit is ‘n hond wat min flank en met ‘n doelgerigte manier sy skaap bring hy weave/flank nie agter sy skaap nie, maar loop reg op sy skaap af.  So ‘n hond mors nie baie energie om ‘n klompie skaap te bring nie.  Hierdie honde word partykeer ook moeilik geleer om te flank omdat hulle styf agter hul skaap werk.  (Die teenoorgestelde van die Flanking Dog)

​

*  Pas (Pace) – ‘n Hond wat druk afhaal van skaap as hulle te vinnig beweeg en weer opstap as dit nodig is om hulle te druk.  Die honde het ‘n sagte gevoel met hul skaap en haas die skaap nie onnodig nie.  Daar is honde wat natuurlike pace het en dan ander wat geleer moet word en in ander gevalle sal die hanteerder die hond altyd met bevele moet terug hou en dan weer moet vra om druk op te sit.

​

*  Blinde haal (Blind Cast) – Wanneer die skape buite die sig van die hond is en hy word uitgestuur om die skaap te gaan bring.  Dit word eers in die gevorderde stadium van afrigting geleer.

​

*  Byt (Bite or Grip) – Dit is wanneer die hond die skaap byt op enige plek op die kop of lyf.  Die gedurige en onnodige invlieg van ‘n hond is nie aanvaarbaar nie.  Dit is iets wat beheer moet word.  Honde moet hulself kan verdedig teen ‘n aanvallige skaap bv. lammer ooie of ramme, maar nie onnodig byt nie.

 

*  Haak van die skaap (Hooking the sheep) – Dit is wanneer ‘n hond om die skaap gaan in ‘n vraagteken (peervorm) en keer dat die skaap weghardloop (beheer kry oor die trop).  Weereens as die hond op die korrekte drukpunt stop beheer hy die skape.

​

*  Ring (Ring/Ringing) – Wanneer ‘n hond reg rondom die skaap hardloop, in ‘n sirkel.  Die hond kan partykeer om en om die skaap gaan.  Dit is iets wat gou ‘n gewoonte kan raak en nie gewens is nie.

​

*  Halwe Sirkel (Half Circle) – By ‘n proefloop is dit wanneer die hond om hardloop tot die koppe van die skaap en dan terug geroep word na die agterkant van die skaap.  Dit kan op die bring of die dryf gebeur.

​

*  Back – Die term word gebruik as ‘n hond op die rûe van skaap hardloop.  Soos in die drukgang om dit vol te maak of voertuie te laai.

​

*  Wyd of nou hardloop (Wide/Narrow) – Party honde wil van nature wyd van die skaap werk.   Party is te wyd en hou nie goeie kontak met hul skaap nie.  Ander werk te naby of bo-op hul skaap, hierdie honde sal die hanteerder met tyd uitdruk.

 

*  Turn tail – Dit is wanneer ‘n hond sy rug (stert) vir/op skaap draai.  Gebeur baie keer as die hond invlieg om te byt en dan weg/uit hardloop.  Maar kan ook ‘n swakheid in die hond wees wat nie die skaap aangesig tot aangesig wil kyk nie en wegdraai van die skaap af.

​

*  Kontak (Contact) – Dit is wanneer die hond beheer behou oor sy skaap en nie te ver is en beheer/kontak verloor nie.  Kan gebeur wanneer jy die hond se aandag aftrek van die skaap, soos deur hand bevele te gee.  Na die haal maak die hond ook kontak met die skaap.

​

*  Regs of Links hond (Right or Left dog) – Alle honde het ‘n kant wat vir hom makliker is.  Dit kan of links of regs wees (nes mense ook links of regshandig is).  Dit is nodig om meer aan die swakker kant te werk om altwee kante ewe goed te kry.  Party honde kan so styf wees aan die een kant dat hulle enigiets sal doen om nie om skaap op daardie kant te beweeg nie.   Hul ongemak laat hulle maklik kruis en kan ook lei tot byt.

​

*  Los werk (Loose worker or Loose eye) – (beskryf onder oog) Gewoonlik gaan die skape uitmekaar – breek op in groepies.  ‘n Onseker hond kan ook baie keer nie sy skape bymekaar hou nie maar sodra hy sy vertroue kry verbeter dit.

​

*  Skei/Skeiding (Shed/Shedding) – Dit is wanneer jy ‘n paar skaap skei van die trop, of die trop in twee deel en die hond tussen die 2 groepe inroep om te help om hulle beheer. 

​

*  Uitkeer (Drafting) – Wanneer jy ‘n trop skaap het en jy enkele skape uit die trop moet uitkry bv. ramme tussen ooie uithaal, of vreemde/siek skaap uitkeer. 

​

*  Single – Wanneer jy een skaap afskei/uitkeer van die trop en die hond vra om te help om die skaap weg te hou of weg te dryf.

​

*  Verloor sy skaap (lost his sheep) – Die hond gaan uit op sy haal en kan nie die skaap kry  waar hulle staan nie.  Of met die bring verloor hy ‘n skaap of skape.

​

​

​

Nog terme wat u by ‘n proefloop sal hoor:

​

*  Baan – Dit is die uitgelegde kompetisie baan wat die hond moet voltooi met die skaap.  Daar is verskillende bane vir Beginner, Junior, Senior en Top Honde.

​

*  Post – Dit is waar die hanteerder staan om sy hond te stuur na die skaap op die baan.

​

*  Loslaat punt – waar die skaap staan en wag vir die hond om te gaan haal.

​

*  Hou kraal – waar die skaap staan en wag vir die kompetisie.

​

*  Exhaust – waarheen die skaap geneem word nadat hulle die baan voltooi het.

​

*  Spotting – Skaap word by die loslaat punt vir ‘n proef gelos en jou hond “spot/sien” die skaap.  Die persoon wat skaap uitsit by ‘n proefloop kan ook na verwys word as die “spotter”.

​

*  Pen – ‘n Klein kraal op die baan waarin die skaap gejaag moet word.

​

*  Kruis dryf (Cross drive) – Dit is wanneer die skaap en hond van link na regs of regs na links  voor jou beweeg (horisontaal voor jou verbybeweeg).

​

*  Weg dryf (Away drive) – Die hond dryf die skaap weg van jou.

​

*  “Okay” word geroep deur die beoordeellaar as hy tevrede is die skeiding of die afkeer van een skaap korrek gedoen is en die hanteerder kan aanbeweeg na die volgende deel van die baan.

​

*  “Time” word geroep wanneer die vasgedstelde tyd om die baan te voltooi verby is.

​

Op die Amptelike Uitslae Bord kan jy die volgende sien :

​

*  DQ (disqualified) -  Diskwalifiseer vir bv. ‘n byt op die baan.

​

*  R (retired) – Dit is wanneer die hanteerder met sy hond die aftog blaas.

bottom of page